Soos in enige langdurige verhouding – want dit is waarna ons strewe - moet ons begin by die begin. Ons moet mekaar leer ken. Dus maak ons eers ʼn afspraak om die kat uit die boom te kyk. Maar ons is nie vol fieterjasies wat verhoudings betref nie; ons sal beslis van jou hou. Die belangrikste is egter dat jy van ons hou en van wat ons doen.

Nadat ons oor hierdie eerste belangrike hekkie gekom het, sit ons skouer aan die wiel en lê ontwerpe voor wat ʼn tweede afspraak sal waarborg. Natuurlik is daar koste aan verbonde, so gedurende hierdie proses sal ons ʼn omvattende begroting aan jou voorlê. Maar jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ons koste word per uur bereken en ons faktureer jou net vir die werklike getal ure wat gewerk is.

Daar is tog iets wat ons nie kan nalaat om te noem nie: ons bring ons suster ook saam! Ja, ons raadpleeg gereeld ons sustermaatskappy, ICSC, om ʼn geïntegreerde kommunikasiestrategie op te stel. Wees gewaarsku! Dit behels baie meer as net goeie ontwerpe, maar ook ʼn strategiese aksieplan wat sal verseker dat jou maatskappy nie net goed lyk nie, maar kop en skouers bo die ander uitstaan. Ons glo ook daaraan om jou, die kliënt, by die skeppende proses en by elke stap te betrek. So jy kan dus baie oproepe en e-posboodskappe (jy sal vreeslik gewild voel!) verwag om jou deurgaans op die hoogte van vordering te hou.

Sal ons by mekaar pas? Daar is net een manier om uit te vind. Skakel ons om die eerste ontmoeting te reël … of ten minste net ʼn afspraak te maak. Jy sal aangenaam verras wees oor wat ons vir jou kan doen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

ICSC